Goeie tafelmaniere en etiket

Goeie tafelmaniere is deel van etiket wat respek vir myself en hoflikheid teenoor ander ‘n aanwins maak. Hoe jy optree teenoor ander sê baie van jou opvoeding en natuurlik is eerste indrukke blywende oomblikke wat tot jou eie voordeel kan tel. 

Goeie tafelmaniere moet deel wees van kinders se opvoeding. Begin hulle van kleinsaf leer in hierdie fyn tegnieke van hoflikheid.

www.theguardian.com
Die volgende is slegte tafelmaniere:
  • Om te rek oor die tafel om iets by te kom, vra eerder dat iemand dit aan gee. 
  • Om oopmond te kou.
  • Om met eetgerei te speel.
  • Om sout by die kos te gooi voordat jy nog daaraan geproe het.
  • Om met kos in in jou mond te praat.
  • Om te begin eet voordat almal kos het.
  • Om smak- en klap geluide te maak as jy eet.
  • Om te vinnig te eet.
  • Om jou mond te vol te stop.
  • Om aan tafel winde op te breek.
  • Om met eetgerei in jou tande te krap.
  • Om jou hande aan die tafeldoek of klere af te vee.
  • Om kos wat op die tafel geval het, te eet.
  • Om nie met jou hand voor jou mond te nies of te hoes nie. Indien dit erg of aanhoudend is, verskoon jouself vir ʼn tydjie van die tafel.
  • Om jou mond aan enigiets, behalwe die servet of jammerlappie af te vee.
  • Om te sê: “O gross, ek eet dit nie”.
  • Om met alles aan tafel fout te vind.
  • Om laag oor jou bord te hang.
  • Om jou neus met die servet af te vee of daarin te snuit, al is dit ‘n papierservet.
  • Om jou bord by ʼn buffetete te hoog met kos te stapel.
  • Om te ooreet sonder om met ander te sosialiseer. Gee die indruk dat jy net gekom het vir die kos en nie die geselskap nie.
  • Om oor ongepaste onderwerpe soos bloed en toiletstories te praat.
  • Om aan iets te proe en dit dan in die bak terug te sit.
  • Om direk uit die kospotte te eet.
  • Om eetgerei af te lek en dan weer te gebruik om verder op te skep.
  • Om te proe en dan dieselfde lepel verder te gebruik om te roer.
  • Om te baklei aan tafel. 
  • Om tydens ete te rook.
  • Om self nog kos in te skep en dit dan nie op te eet nie. Met ander woorde as jou oë groter as jou maag is.
  • Om met jou mes of vurk te beduie terwyl jy praat.
  • Om medisyne aan tafel te drink.
www.skinnymom.com
Kossoorte wat met die hande geëet mag word:
  • Toebroodjies en “wraps”.
  • Rou groente en vrugte wat in porsies opgesny is.
  • Gesnyde kaas of koue vleise in stukkies of op stokkies bedien.
  • Etniese kossoorte wat bedien word sonder eetgerei.
  • Ribbetjies of hoender wat bene in het, skulp vissoorte soos garnale of kreef, sushi. (Water bakkies moet vir  hierdie disse voorsien word).
  • Pizza, hamburgers en worsrolle.
  • Sagte brode soos rolletjies of skons word gebreek en word eenkant op bordjie stukkie vir stukkie met botter gesmeer.  Roosterbrood word in geheel gesmeer en gesny in blokke. Moenie die rolletjies in die helfde smeer en as ‘n geheel eet nie. Botter word uit die bakkie geskep en eenkant gesmeer op jou bordjie en vandaar smeer jy op jou happies.
www.wikihow.com
By ‘n vriend se huis:  
  • Wees beleefd teenoor jou gasheer of –vrou. Stel jouself voor as julle nog nie ontmoet het nie.
  • Daag betyds op.
  • Neem ’n dankie-sê geskenk saam, al is dit net iets klein soos ’n sjokolade. ’n Geskenk is nie ’n moet nie, maar dis lekker om iets te neem en te kry.
  • Sê dankie dat jy genooi is.
  • Vra die gasheer of -vrou uit en kry iets om oor te gesels.
  • Bied aan om te help – selfs met die skottelgoed!
  • Bêre jou selfoon en ander elektroniese ware in jou sak. Moet nooit aan tafel ’n SMS stuur, ’n oproep beantwoord (tensy dit ’n saak van lewe en dood is) of ’n boodskap op Facebook laai nie.
articles.orlandosentinel.com
Tafelmaniere:
  • Sit regop en moenie jou arms of elmboë op die tafel laat rus nie.
  • Neem die servet en sit dit op jou skoot. As jy klaar geëet het plaas servet liggies opgefrommel en nie opgevou nie links van bord. As jy die kamer vir ‘n wyle moet verlaat los die servet op jou stoel en sê eenvoudig: “Verskoon my, ek sal nou terug wees.” Dit is ook ‘n aanduiding vir die kelner dat jy weer terug kom.
  • Wag eers totdat al die gaste opgeskep het voordat jy begin eet.
  • Wanneer jy geregte aanstuur, sorg dat dit in een rigting beweeg. Dit sal die gereg wees wat voor jou bord gedek is en stuur dit aan na regs.
  • Wanneer iemand vra na sout moet die hele stelletjie met peper aan gestuur word.
  • Moenie die laaste porsie kos opskep voor jy nie vir die ander gaste gevra het of hulle dit dalk wil hê nie.
  • Die doel van die broodbordjie is om jou brood en slaai in te skep sodat die verskillende kosse nie meng nie en nie om jou kougom op te bêre.
  • Die glase op die tafel werk so: Die witwyn glas is kleiner as die rooiwyn glas. Witwyn word aan die steel vasgehou sodat die wyn nie in jou hand warm word nie. Rooiwyn word by kamertemperatuur bedien, dus mag jy aan bol van die glas houvas.
  • Beentjies word nooit op die broodbord gelos nie. Alles wat in jou bord was word weer terug op die bord geplaas.
  • Mans/seuns gaan sit nie voor al die vrouens/dogters sit nie.
  • Mans/seuns trek die stoel vir vrouens/dogters uit.
  • Wag agter die stoel totdat die belangrike of ouer mense eerste sit.
  • Wees betyds vir ete. Laat weet vroegtydig indien jy nie gaan saam eet nie.
  • Neem klein happies, sodat jy nie te lank hoef te kou nie.
  • Kos word na die mond gebring. Die kop sak nie tot by die kos nie.
  • Indien jy genooi word om by mense te eet en jy is allergies vir enige kos of ʼn vegetariër, tref vooraf reëlings met die gasvrou.
  • Gedekte eetgerei by ʼn formele ete word altyd van buite af gebruik met die hoofgereg by die grootbord.
  • Terwyl jy tussen happe kou, sit jou mes en vurk skuins bo-op die bord neer met die vurk se tande na onder in die vorm van ʼn X of omgekeerde V.
  • Ons eet gewoonlik met die vurk se tande na onder. Die vurk kan ook omgedraai word om sagte kosse te eet.
  • Draai pasta om die vurk in ʼn bolletjie en bring dan na jou mond toe. Jy kan die lepel in jou linkerhand gebruik om met die draaiery te help.
  • Indien jy klaar geëet het, draai die vurk met sy tande na bo en sit die mes met die snykant na binne langs die vurk in die middel van die bord.
  • Jy kan begin eet nadat almal kos het, die tafel gebed gedoen is, en die gasvrou begin eet of wanneer die gasvrou aandui dat gaste maar mag begin.
  • Wees te alle tye konsidererend teenoor jou tafelgenote.
  • Mense begaan ongelukkies. Hanteer dit met grasie en stel dit reg.
  • Borde word twee-twee weggeneem en eenkant skoon gekrap en opmekaar gestapel, nie op die tafel nie.
  • Gebruik jou hand vir groen aspersies, sushi, toebroodjies, ʼn gebraaide ribbebeen en ʼn tjop- of hoenderbeentjie se laaste af-eet. Sê eers: “Verskoon my hand, asseblief”. By ʼn formele ete gebruik ʼn mens net jou vurk en mes. As jy ʼn olyf eet, kan jy die pit met jou vingers uit die mond haal en op die kant van die bord sit.
  • Dit is aanvaarbaar om ʼn tandestokkie aan tafel te gebruik: vorm ʼn bakkie met jou een hand voor jou mond terwyl jy die tandestokkie gebruik.
  • Hou die gasheer en gasvrou dop.
  • Wees gesellig aan tafel en neem aan die gesprek deel om die geleentheid te laat vlot.
  • Bedank, wys jou waardering en komplimenteer die kok.
  • Vra of jy kan help met die afdek.
  • As jy genoeg rede het kan jy met reg beswaar maak oor diens in ʼn restaurant. Onthou om ook krediet te gee vir goeie diens en kos. Die kelner verdien sy fooitjie.
  • Was jou hande voordat  jy aansit vir ete.
  • Dis aanvaarbaar om jou kos op die vurk te meng maar moenie dit voor die tyd deurmekaar roer nie.
www.dailymail.co.uk

No comments:

Post a Comment